Om die Tafel
Ek het nog altyd gedroom van 'n koffiewinkel met heilsame sielskos en tuisgemaakte disse, maar meer as dit 'n plek waar mense bymekaar kan uitkom, die laste van die lewe kan afpak en met 'n warm hart en ligte siel kan wegstap. Kos is so 'n iets wat mense bymekaar bring, want kos voed baie meer as net ons maag.
Maar toe swot ek bemarking en kommunikasie, werk as skakelbeampte en konsultant, beland in die kerkomgewing en swot teologie, kry my honneurs en bedien die gemeenskap as predikant. Hoe verder ek van my kosdroom af beweeg het, hoe nader het ek aan my kosdroom beweeg. Al besit ons nie almal 'n koffiewinkel met heilsame kos nie (want dit klink my dis amper almal van ons se droom), is kos tog so deel van ons alledaagse rolle. My kosstorie is sommer net ma-wees in die kombuis vir my man en drie kinders, maar dis soveel meer. Dis koek-en-tee met vriendinne en nagmaal in die kerk. Dis saamsit om 'n tafel, hande vashou, mekaar in die oë kyk, krummels en trane afvee. Dis 'n plek waar ons ons gawes kan ontdek en uitleef en mekaar kan bederf met die talente wat ons ontvang het. Dis om naby die Here te leef en gevul te word met Sy volheid.
​
Ek nooi met hierdie bladsye my ervarings en ontdekkings en 'n stukkie van my hart om te inspireer, bemoedig en verbind. Ek wil elke vrou nooi om saam met my om die tafel te kom sit vir lekker kos, lekker gesprekke en geestelike voedsel wat die Here al lankal vir ons voorberei het.
Oi-kos, want almal het 'n kosstorie of twee.

Elsabe.
Volg my op Instagram