top of page

DONKIE


2 Februarie 2026

My Woord vir die Week is Donkie. 

Nie die donkie van donkie-jare terug wat klaarblyklik so ‘n wonderlike ding was nie... (o die donkie... die donkie is 'n wonderlike ding...) Eerder die donkie wat na baie keer se kopstamp teen dieselfde klippe geleer het dat daar nie maklike paadjies is nie.  Of dat hulle jou nie noodwendig gaan uitbring by die plekke wat jy opnuut moet ontdek en in groei nie. 

 

Donkies laat my dink aan vaal, stowwerige grondpaaie en plek-plek skadu-kolle in die middel van nêrens, maar dis dalk net die plek waar ons moet uitkom.


Is dit nie so dat ons eerder hoog wil loop en met bravade wil veg, sterk wil staan en uit wil staan as om gedienstig en gedweë die donkiewerk dag in en dag uit te doen nie?  


Ek lees Matteus 21(vers 1-11) asof Jesus se eenvoudige opdragte net vir my bedoel is – gaan, maak los, bring, antwoord, gaan.  

Herhaal. Gaan, maak los, bring, antwoord, gaan. Herhaal. Ons wil haastig by ons bestemming uitkom en vinnig en maklik ons resultate behaal, maar is traag om te volg en te gehoorsaam en dit te doen wat net hier voor ons is om te doen, nou, daagliks, een voet voor die ander.  Mag ons soos donkies nederig genoeg wees om te volg, te gehoorsaam en in ritme met die Here te beweeg, al voel dit soos die ompad (wat eintlik die mooi stofpad is waarop Jesus ook geloop het).


“Die Here het hulle nodig,” sê Jesus.  Die Here het jóú nodig. 

Soos dit reeds eeue vooraf bestem is dat die wonderlike donkie die Heilige Week sou inlei, is jy ook van die begin af God se plan A en wil Hy jóú gebruik, hier, nou en daagliks om hierdie donkie-taak (wat eintlik so ‘n heilige taak is) te voltooi.  Hoekom wil ons dan die bobbejaan agter die bult gaan haal of die ander pad kies as die een wat vir die donkie uitgelê is?


Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op ‘n donkie, en op ‘n jong donkie, die vul van ‘n pakdier. (Terloops, is dit nie so mooi dat Jesus nie die vulletjie alleen laat gaan het nie, maar die donkie-ma al die pad saam geloop het?)

Donkies het altyd ‘n diep, sosiale behoefte aan saamloop en saamstaan en ek het weer hierdie week besef hoe baie engele daar saam op Bileam en sy donkie se pad stap.  Engele wat dalk ook moeg is van donkie-werk, maar wat besig is met heilige bemoediging, troos, aanspoor en omgee wanneer die pad lank en swaar raak.


Donkies is bekend vir hul besonderse stamina en uithouvermoë – die wonderlike vermoë om laste en water en mense te dra oor rowwe terrein.  Ek wil ‘n “beast of burden” wees en een voet voor die ander oor die klippe stap - gedienstig, gedweë, gehoorsaam - want ek weet as ek terugkyk sal dit alles sin maak en soos ‘n legkaart inmekaar pas.


Hierdie week mag dalk die belangrikste week ooit wees.  Net soos elke ander dag en ander week.  Dis Heilige Week en ek staan in diens van die Here.  Jesus se week het begin met ‘n maaltyd, ‘n arrestasie en onverdiende marteling en veroordeling, gekruisig, opgestaan en verheerlik.  Mag jou week ook ‘n heilige geleentheid wees met elke onverdiende, ongewaardeerde of sleepvoet taak wat jy dalk moet verrig – die heerlike opstanding is om die draai.


“Hosanna! Hosanna in die hoogste!”

 

Matteus 21:1-11: '1Toe hulle Jerusalem nader en by Betfage teen die Olyfberg kom, stuur Jesus twee dissipels 2met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar voor julle, en julle sal dadelik 'n vasgemaakte donkie vind met 'n vul by haar. Maak haar los en bring hulle vir My. 3En as iemand vir julle iets sê, moet julle antwoord, ‘Die Here het hulle nodig’. Dan sal hy hulle dadelik laat gaan.” 4Dit het gebeur, sodat vervul sou word wat deur die profeet gesê is: 5“Sê vir die dogter van Sion: Kyk, jou Koning kom na jou toe: Hy is sagmoedig en Hy sit op 'n donkie, en op 'n jong donkie, die vul van 'n pakdier. ” 6Die dissipels het vertrek en gemaak soos Jesus hulle beveel het. 7Hulle het die donkie en die vul geneem, boklere op hulle neergesit, en Hy het daarop gaan sit. 8Die groot skare het hulle boklere op die pad oopgesprei, en ander weer het takke van die bome afgekap en op die pad oopgesprei. 9Die skare wat voor Hom uit geloop en dié wat gevolg het, het uitgeroep: “Hosanna vir die •Seun van Dawid! Geseënd is Hy wat kom in die Naam van die Here! Hosanna in die hoogste!” 10Toe Hy Jerusalem binnegaan, was die hele stad in rep en roer, en hulle het gevra: “Wie is hierdie man?” 11Die skare het gesê: “Dit is die profeet Jesus, die Een van Nasaret, in Galilea.” '




Recent Posts

See All

Comments


bottom of page