'n WOORD VIR DIE WEEK
- elsabehorn4
- 1 day ago
- 3 min read

25 Januarie 2025
"Wat is jou Woord vir die Jaar?" hoor jy om elke hoek en draai aan die begin van die jaar, en ek self het daardie einste vragie nou al holrug gery - soveel so dat ek wil hol. Ek besluit nog of ek terug of vorentoe wil gaan, maar het darem dit goedgedink om aan te hou beweeg en nie stil te staan in my benoudheid en ontnugtering nie. Dit klink my darem ek is nie die enigste een wat sommer in Januarie al die swembrille en tjoeps moes nader trek om die storms te oorleef nie. Dis 'n wilde, deurmekaar, wankelrige jaar of is dit maar net die begin van 'n wilde, opwindende, baanbreker jaar?
Beweeg. Dis 'n goeie woord vir die jaar. Ons gaan nie stilsit of tob oor ons probleme nie; ons gaan dinge laat gebeur; ons gaan uitreik en nooi, oefen.
Of Bold. Dit wás my woord, maar van dapper en vol selfvertroue het daar nou net 'n leë, kaalkop "bald" oorgebly. Lééf, lig, voluit, verander... hoe vat mens alles wat jy wil wees en voor hoop in een woord vas wat jou nie tekort gaan laat skiet nie en terselftertyd heel jaar gaan hou? Geniet, genade, geseënd. Soveel woorde met elkeen sy eie gewigtigheid. Dan praat ek nie eens van vrees en onseker en moeg nie - dis die ware woorde waarmee ek éíntlik elke dag konfronteer word... Hulle hoort nie op enige nuwejaarslysie nie; ons skuif hulle vinnig onder die mat in al is hulle tog so werklik.
So. My nuwe woord vir die jaar is woorde. Baie woorde. Ek besef so in my stille refleksie op die afgelope maand dat een enkele gedagte net te groot en te geweldig is om op die yskas te plak. Hoera - "Woord vir die Jaar" is sopas geherdoop tot "Woord van die Week" en ek is klaar opgewonde omdat ek dink ek sal vir sewe dae darem kan volhou en 'n woord omhoog hou. Kort ons nie juis klein, happie-grootte en verteerbare kos aan die begin van die jaar nie?
Die jaar is dalk lank en ongenaakbaar, maar daar is soveel belofte en geleentheid in elke liewe dag opgesluit. Ek gaan hom (of haar - ek is nie seker wie die skuld hierdie keer moet kry nie) met nederige treë, dag vir dag, week vir week aanpak. Ek weet dis ook 'n holrug sêding om van dag tot dag te lewe, maar nou weet ek dit maar opnuut weer. Die beste manier is nog steeds om by die begin te begin. Een baksteen op die ander. En dan 'n volgende een. Daar is geen ander manier nie.
Ek wil jou uitnooi om saam met my die jaar, week vir week, aan te pak met 'n Woord vir die Week. Woorde wat my inspireer en irriteer; woorde wat laat lag en huil, maar altyd woorde wat beweeg. Daarmee saam deel ek graag die enigste Woord wat lewend en kragtig genoeg is om heeljaar en elke jaar te hou - die Woord van God.
Dit sny dieper as 'n swaard of enige vurige tong, deur murg en been, om jou hart en gedagtes en gesindheid te kom verander. Dit beweeg. Met meer grasie en ritme as enige lied waarmee jy dalk die jaar wou inloop.
My jaar begin natuurlik eers amptelik op 1 Februarie, vir die tweede keer, en ek nooi jou om ook 'n maand te laat, maar darem altyd betyds soos net God kan, die pad saam te stap.
Op woorde! Gelukkige Nuwejaar!
Comments