SEISOEN
- elsabehorn4
- Mar 10
- 3 min read

10 Maart 2026
My Woord vir die Week is Seisoen.
As ek na die rye en rye groen berge kyk wat by my venster uitrol, en die droomverlore wolke in die lug, lug wat ruik soos reën en belofte, dan voel hierdie soos die mooiste, beste seisoen waarin ons nou is. Ek sien die Here se hand in die natuur en in my lewe en voel Sy warm teenwoordigheid soos sonlig op my rug. My kinders is gesond en werk hard, ons kan ‘n vinnige wegbreek bekostig en ek voel vriendelik, vrygewig en beheersd.
Maar ek is deeglik bewus van die vreemde windjie wat om die hoeke huil… koeler oggende, droër dae… want soos dit al so dikwels tevore gebeur het, kom alle goeie goed ook weer af. As daardie reëndruppels neergestort het en die aarde se nattigheid verdamp het, bly daar net korrelrige sandkrummels oor en ‘n vaal, verlore gemoed. Dan trek ek swaar, my hart klop stadig, my kinders sukkel, my werk voel oorweldigend, my verhoudings wankelend.
Die Here voel ver en die vrugte van Sy harde werk lê soos vrot appels aan die onderpunt van my benerige boompie wat net-net aan die lewe is.
Seisoene kom en seisoene gaan; ek weet dit so seker soos die son opkom. Daar is goeie en mooi tye wat ek die resultate van die Here in my lewe smaak… en daar is slegte en vaal tye waar ek stilweg twyfel en rondtas in die donker. Dit is die lewe.
Maar ek besef opnuut daar is net een ding wat ek kan doen, en móét doen… en dit is groei. Ek kan nie die foute van gister uitwis nie en ek kan nie in hierdie ongemaklike oomblik vasgevang bly nie. Ek kan selfs nie die lieflike reën van gister terugkry nie, ek kan net een ding doen – en dit is vorentoe beweeg – groei, groei, groei.
Ek was dikwels al gefrustreerd omdat ek nie met absolute sekerheid kan bepaal wat my grimeer-en-klere seisoen is nie. Nes ek met deeglike analise ontdek het ek is ‘n mid-warm halfgebakte herfs of lente (daar is maar altyd ‘n gryserigheid tussen die seisoene), voel ek stralend in ‘n donker blompatroon wat skree van somer. Wel, ek kan nie help my klerekas verander ook soos die wind (of my gemoed) nie. Ons pas sekerlik nie nét in ‘n boks van twee seisoene vir die res van ons lewe nie. Selfs die blou ondertoon wat ek nou die dag gehad het, lyk nou effe geel.
Dis darem verblydend om te sien dat daar baie analiste is wat wel twáálf kleurseisoene identifiseer vir daardie tussenin dae wat jy voel die wind het als deurmekaar gewaai.
Ek lees onlangs dat daar op plekke met wisselvallige klimaat ook verwys word na twaalf seisoene met toestande soos Vals Herfs… Tweede Somer… Helse Week… en Modder Seisoen. Dit klink dalk bietjie té bekend…
Mense kom en gaan soms deur ons lewe soos warrelwinde of ‘n vars bries. Dis seer as jy naby vriendinne verloor wat eenvoudig besig is om te vervel en daarmee saam ook ontslae raak van jare se saamdink en worstel en geselsies. Soms het daar nie eens iets spesifieks gebeur nie; dit het net doodgeloop en weggewaai en afgestomp sonder rede of begrip.
Aan die ander kant van daardie los velle, is daar darem dikwels ‘n nuwe glimlag en opbouende woord wat jy nie verwag het nie. Soos jy dinge verloor en moet groet, kom die son weer op in ander areas. Ai, dit bly maar nie lekker om deur die lewe se seisoene meegesleur te word nie.
Vriende vir ‘n reason, a season or a lifetime – dit is die gang van die lewe en ek moet groei ín en déúr daardie seisoen.
To everything turn, turn, turn
There is a season, turn, turn, turn
And a time to every purpose under heaven
Hoe wonderlik is dit dat God ons die wil én die gawes gee om vorentoe toe te beweeg en te weet daar is meer as waar jy nou is. Ook 2 Petrus 3:18 pleit by ons om aan te hou groei in genade en die kennis van ons Here en Verlosser – Hy wat ons hand vat deur elke seisoen – ons stabiliteit en rots.
Verduur die droë grond, die dormante winters… geniet die vrolike somers… maar moenie die tak los nie, die brug brand nie.
Ek sê dankie vir vriendinne in hierdie seisoen van my lewe. Dankie vir nuwe mense wat in die plek van ou mense kom blom het. En dan is daar saadjies wat lank terug gesaai is, maar vele somers daarna steeds blom en vrug dra. Mag dit jou ook bemoedig hierdie week.


Comments